My native language is Afrikaans. The youngest and most modern language in the world! When I started this blog, I translated many of my articles into English. But some are bound to the idiom used in Afrikaans, and without this idiomatic context, the reader cannot understand what I mean. For instance, I cannot translate "En ekke vir jou" into English. The direct translation would be: "And I for you", which makes no sense. (The protagonist actually meant: "And I love you too!")

Dutch readers, however, should be able to follow most of the text. If you did, share it with your friends on Facebook or contact me. It is always lovely to get some feedback.

Sommerso

© J. Francois Barnard - 11 Augustus 2021

En sommerso kom die son toe op vanoggend. So asof gister, 10 Augustus, nie 'n dag van slegte nuus was nie. En sommerso pynig die jig my voet, maar hierdie keer op 'n nuwe plek. Sommerso. My selfoon gons hier op my bedkassie soos wat die bank aankondig dat daar weer tolhektransaksies was. Tolhekke. Hulle gaan vanoggend weer op en af. Motors vloei uit die woonbuurt werk toe. Taxis bring werkers in. Sommerso.

Alles gaan aan soos altyd, maar nie vir Leon nie. Ook nie vir Tiaan nie. Hulle het weggeval oor die langnaweek, en gister het ons die slegte nuus gekry. Sommerso. So asof daar nie geliefdes is wat stukkend is nie. So asof ons fondasies nie geskud het op 10 Augustus nie.

Hulle is net weg.

leon tiaanEn ons weet dat ons almal net so kwesbaar is. Nie een van ons kry voorkeurbehandeling as dit by die dood kom nie. Maar ek moet aangaan. Ek moet my personeelvergadering bywoon. Al ruk my hart binne my. Ek moet na 'n perseelinspeksie toe gaan. Sommerso. Ek moet voorraad in Johannesburg gaan haal. Terugkom. Aangaan. Dinge moet gebeur soos dit altyd gebeur – maar sonder 'n Leon en sonder 'n Tiaan.

En ja, die regte antwoorde ken ek ook. Ek weet dat Leon en Tiaan Sy gunsgenote was. Ek weet dat hulle dood kosbaar is in Sy oë. En ek hoef nie die hoekoms en waaroms se antwoorde te hê nie. Ek weet ek kan 'n Sabbatsrus vind in Hom.

En aangaan moet ek aangaan. Want ek is ook 'n Gunsgenoot! En my lewe is kosbaar in Sy oë. Wat ek doen, wat ek sê, wat ek beleef – is ook kosbaar in Sy oë.

Want sommerso is daar genade vir my vir vandag. Daar is vars barmhartighede elke oggend vir my. Sommerso. Sonder dat ek iets verdien. Sonder dat my werkverrigting dit veroorsaak. Blote genade vir my pyn en my hartseer. Sommerso.

Terwyl die hartseer nog daar is, beleef ek dit ten volle, want dit moet sy werk in my doen. Dit moet die ruimte skep in my vir ander. Dit moet die verstaan bring dat ek nie onverskillig staan teenoor pyn nie. So, ek huil wanneer ek wil, en ek lag wanneer ek kan. En ek laat die rouproses toe sodat ek weer kan heel raak.

Sommerso.

tiaan