Poerie
© J. Francois Barnard - 5 Junie 2022
Liewe Meneer Poerie,
Moet my asseblief nie moer nie?
My boude is gaar,
En my Biologie-taak is nie klaar!
Ek het regtig hard probeer
Maar ek kon dit nie keer
Ek is vyftien, my hormone pla
En my Biologie-taak is nie klaar!
Die Maandag op rooi munisipale vervoer
Het ons innig vir mekaar geloer
‘n Afspraak gemaak maar…
my Biologie-taak is nie klaar!
Met twee baaisiekels, kombers en pieniekmandjie
Het ons Magnoliadal besoek
Dit was pret en ons het baljaar
Maar my Biologie-taak is nie klaar!
Vrydag by die Kleinteater
Het ons vir die Drie Van der Walts geskater
Maar Saterdag was ek weer somber
Oor my Biologie-taak gaan Meneer my donder!
The Jazz Singer het ons Saterdagaand vermaak
En ons wou sing en ons wou dans
Maar op my lessenaar lê vermoeid
‘n Biologie-taak onvoltooid.
Sy is pragtig, sy is mooi
In haar Sondag-beste getooi
Ek het my verkyk aan haar
Maar my Biologie-taak is nie klaar!
Hier staan ek, Meneer, sielsontbloot
My integriteit is in die sloot
Maar ek hoop Meneer sal verstaan
My Biologie-taak is nie gedaan!