My native language is Afrikaans. The youngest, and most modern language in the world! When I started this blog, I translated many of my articles into English. But some are bound to the idiom used in Afrikaans, and without this idiomatic context, the reader cannot understand what I mean. For instance, I cannot translate "En ekke vir jou" into English. The direct translation would be: "And I for you" which makes no sense. (The protagonist actually meant: "And I love you too!")

Dutch readers, however, should be able to follow most of the text. If you did, share it with your friends on Facebook or contact me. It is always lovely to get some feedback.

My Liewe Oom Michiel

© J. Francois Barnard - 18 Julie 2021

Verlede Maandag is my liewe Oom Michiel Greyling oorlede. Nege jaar my oorlede ma se junior, en op 80 het hy nou ook die tuig neergelê. Ek het soveel mooi herinneringe aan hom. Hy het soveel mense se lewens aangeraak op sy eie manier met sy humor, vernuf, en ja, ook al sy korrelkopgeite.

Hy het nie nonsies van hierdie nefie van hom gevat nie, en nie geskroom om my op my plek te sit nie. Maar in sy hart was hy 'n ou softie. Hy het graag met ons gekuier en ek het altyd welkom gevoel by hom en Tannie Bets. Nie dat hy sommer in sy kar geklim het en by ander gaan kuier het nie.

"Jy moet hom met 'n krêkker uit die huis uit skiet," het Gustav eendag gesê. Hy het tuisgebly en die katte opgepas. Dalk het hy gedink: "Wie wil nou met my kuier?"

michielEk het daarom baie bevoorreg gevoel toe hy en Tannie Bets 'n paar jaar gelede by ons kom oorbly het. Ek het so terloops genoem van 'n aanbouing wat ek graag in die toekoms sal wil doen, en hy het vinnig sy konstruksie-wysheid met my gedeel. Die manier hoe hy dit gedoen het, het vir my sin gemaak, en hy het my nie op my dommigheid gewys nie. Ek het hom bewonder vir die manier waarop hy my benader het.

Sy professionele nalatenskap vir Suid Afrika is landswyd versprei. Toe ek tussen 2001 en 2003 'n kontrak in die Ooskaap gehad het, het ek onwetend teen 120km/h oor tientalle brue gery sonder dat ek besef het dat hy die ontwerper daarvan was.

Na 1987 se Natalramp het ek hom uitgevra oor die brue wat beskadig was, en hoekom die Spoorwegbrue bly staan het en die nasionale paaie s'n daarmee heen was. "Dis eenvoudig," antwoord hy, "die Spoorweg neem hulle spore oor riviere en valleie by die beste plekke om brue te bou. By hulle bepaal die brug waar die spoor moet loop. Met paaie is dit anders. Die regering sê hulle wil hier of daar 'n pad hê, al is dit honderd meter van die see af, en die ingenieurs moet eenvoudig 'n brug daarvoor ontwerp. Of dit nou 'n goeie plek is of nie."

Ek was verras toe ek een Maandagoggend 'n oproep van hom af kry. "Wanneer jy weer op die N1 by die WNNR verbyry, kyk of daar 'n nuwe brug staan?" Ek was juis op die N1 oppad om soontoe te ry toe hy gebel het. En ja, wraggies, oor die naweek het daar 'n brug dwars oor die N1 verskyn waar ek die vorige week nog net pilare gesien het. Dis die Hotelstraatbrug wat verkeer vanaf Meiring Naudeweg na die Innovation Hub toe neem. Hy het dit in sy kantoor in Durban ontwerp, en eers baie later self gesien.

In 2001, tydens my USAID kontrak wat my landswyd laat rondry het, het ek van Suid-Natal af my weg deurgewerk Pinetown toe en gereel dat ek by die Banana-Greylings, soos hy sy gesin genoem het, gaan oorbly. Ek sou so na werk se kant daar aankom, en hy het my die pad beduie na sy plaaslike pub toe. Sy local. Daar het ek 'n lekker bier saam met hom en 'n klomp Engelsmanne gedrink. Vir hulle was hy "Mike." Hulle het geen Michiel geken nie. Maar ek kon sien hoeveel waardering en respek hulle vir hom gehad het.

By die huis het ek my tas in my kamer gaan neersit. Die venster moes oopbly, want Lollie, Spokie en Swartsak moes daardeur kom. Ek het die kamer die "Kathoofweg" genoem, en van toe af het hulle die kamer ook so genoem.

Die swart kat, Swartsak, was 'n mannetjieskat en ek het gevra of hy reggemaak is.
"Ja," sê Oom Michiel, "hy is reggemaak."
"Maar dan moet ons hom mos nou Platsak noem?"
Oom Michiel het gelag, maar ek het gesien hoe die ratte in sy kop draai en hy dink dat sy nefie so wraggies sy kat kom beledig het. Hy het nie toegelaat dat daardie naam vashaak nie.

Hy was baie lief vir my oorlede pa, en het nie toegelaat dat ek enige iets negatief oor hom sê nie. Hoe dan nou nie? My pa en ma was pasgetroud en het hom saamgevat op wittebrood! Op 'n jagtog in Desember! Wie jag in die somer? En wie hou wittebrood as jou nuwe swaertjie saamkom?

In sy universiteitsjare op Tuks het Oom Michiel sy hare lank gegroei. Dit was die styl van daardie jare, maar my pa kon dit nie uitstaan nie. "Gaan sny jou hare," het my pa gesê en die arm student 'n halfkroon gegee daarvoor. Maar as jou sigarette klaar is sny jy nie sommer jou hare nie! Jy koop sigarette.

"Jy rook Texan Plain?" merk my pa eendag op. "Ja nee, thirty thousand mine boys can't be wrong!" Oom Michiel het die goedige verhouding tussen hulle hoog op prys gestel. Hy het, soos baie ingenieurs van daardie tyd, my pa gerespekteer vir sy vernuf in sy vakgebied.

By Oupa Kootjie se begrafnis in 1982 het ek gesien hoe my ma, Oom Michiel en hulle jonger broer, Koos, saamwerk om alles te reël. Vredevol en in eenheid. Dit het 'n diep indruk op my gemaak, en die dag toe ek my in daardie selfde situasie bevind, het ek en my broer en suster dieselfde gedoen.

mike gusOom Michiel het aanhou werk tot diep in sy sewentigs. Hoekom dan nie? Maar dit het afgeskaal toe hulle Rheebok toe getrek het. Ons het in 2020 daar gaan kuier en dit was so goed om hulle weer te sien. Dit was my laaste kuier saam met hom. As ek hom op sy verjaarsdag op 1 Desember bel, het hy altyd gesê dat hy nie van die verjaarsdaggedoente hou nie. Dit maak jou oud!

Ek weet Tannie Bets en sy kinders en kleinkinders, asook die res van die familie mooi herinninge koester aan ons Oom Michiel. As ek een prentjie moet voorhou wat my aan hom laat dink, dan is dit 'n rots wat so vasstaan soos Gibraltar. Hy het nooit in sy lewe rondgeval nie. Hy het 'n loopbaan gebou en sy beste gegee. Hy het vir sy gesin 'n stabiele huis gegee en altyd by sy beginsels gehou.

Ek mis my Liewe Oom Michiel en ek is so dankbaar vir die vrede wat hy nou ervaar. Die gaping wat sy afwesigheid nou laat is nie 'n pynlike gaping nie. Ek glo nie daar was uitstaande "rekeninge" tussen hom en ander nie. Ek vertrou dat almal wat vir hom lief is ook die vrede sal ervaar wat hy nou het.


Michiel Daniel Greyling: 1 Desember 1940 – 12 Julie 2021.