Karkoop

© J. Francois Barnard – 2 Desember 2020

Ek is dalk ‘n bietjie van ‘n petrolkop, en ‘n blink, nuwe wa laat my kwyl. Maar na aanleiding van wat ek die laaste tyd oor elektriese motors lees en sien, wonder ek of ek nie binnekort ‘n vonkkop gaan wees nie?

Die mees termies effektiewe binnebrandenjin vind jy in ‘n Formule 1 renmotor. Hierdie effektiwiteit het tussen 2013 na nou toe vanaf 29% tot 49% verbeter. In die 130 jaar van binnebrandenjinontwikkeling is hierdie die grootste sprong ooit, en ons staan op die punt om aan dit alles vaarwel te sê.

Die rede is dat die elektriese motor ‘n nuwe bron van energie gekry het: Die lithiumioon battery.

Waar ons in die verlede ons fokus op enjinontwikkeling geplaas het, verskuif dit nou na batteryontwikkeling. En hierdie ontwikkelling het in die laaste paar jaar so fenominaal versnel dat dit moeilik is om by te hou.

Maar waar ontwikkelling té vinnig plaasvind, gaan daar ook rooi ligte vir my aan. Wetenskaplikes het oor die laaste 130 jaar nie tred gehou met die skade wat die binnebrandenjin aan die planeet gedoen het nie. Hierdie fout moet nou nie herhaal word in die ontwikkeling van batterye nie.

Op sy YouTube-kanaal, Fully Charged, sê Robert Llewellyn dat alles wat die elektriese motor jou bied die binnebrandenjin by verre ore aansit. Hoe meer jou kennis uitbrei oor die effektiwiteit van ‘n elektriese motor en die effektiwiteit van die battery, hoe meer verdwyn die binnebrandenjin in die skadu wat hierdie ontwikkelings gooi.

ic vs ev

Ek wil nie ooit weer ‘n motor koop met ‘n binnebrandenjin nie! Dit mors met my geld en dit mors met my planeet. Vive l'électricité!

Maar ek bly gesnoeker hier aan die suidpunt van Afrika. Hier sit ons sonder ‘n netwerk van herlaaitoerusting. Verder gaan die kortsigtige regering ‘n bohaai opskop as ek my elektriese motor tuis herlaai met krag wat hulle nie soos petrol belas het nie. Wat daarvan as ek groot batterye het wat deur Afrika se son verniet gelaai word? Dis genoeg om enige gulsige regering sooibrand te gee!

Nou sit ek droewig en staar na die blink, elektriese waens wat wêreldwyd ontwikkel word, maar nog nie my voorland is nie. My 13-jarige Honda CR-V met 300,000km agter die blad begin sy ouderdom wys. Ek jeuk al jare lank vir ‘n nuwe wa, maar gooi maar net nog ‘n klippie in die G-string om alles te bedwing.

Karkoop is toe nie perdekoop nie.