Die Troosbrak

© J. Francois Barnard – September 2010

Whiskey het op so 'n 8 of 9 maande ouderdom by ons aangekom in 1973. Sy verjaardag was 22 Mei, net drie dae na my eie verjaardag. Hy was 'n Golden Cocker Spaniel, maar ietwat groter as die gewone spanjoel omdat daar seker êrens van 'n sypaadjie af 'n bietjie Labrador-bloed ook ingesluip het.

Moeder Adna was 'n berader met empatie vir enige mens wat swaarkry. Die sneesdoekies was gereeld klaar lank voor die beradingsessie, dan gaan kry sy sommer 'n rol toiletpapier.

Sy het nie berading gedoen in 'n studeerkamer of 'n studio nie. Ons huis in Muckleneuk het daardie tyd net slaapkamers gehad. Vir privaatheid het sy haar kamerdeur toegetrek terwyl sy en wie ook al gebroke was op haar bed se rand gesit het.

Whiskey het onder die bed gelê en slaap, maar niemand was dadelik van hom bewus nie.

Die aanduiding dat die sessie na 'n punt toe loop, was wanneer die emosies begin opwel en die stortvloed van trane begin. Dan het Moeder Adna haar sneesdoekies (of die rol) nader getrek, terwyl die oversized spanjoel sy lyf onder die bed uitgewurm het.

Tussen die trane deur kon die gebrokenes vir Whiskey nie dadelik sien nie. Hulle het eers van hom bewus geraak wanneer hy sy pote saggies op die skoot sit, en sy snoet teen 'n wang druk.

Dan tjank dit eers!

Ou Whiskey se dik pels het seker al liters en liters se trane geabsorbeer oor die jare. Hulle was 'n gedugte beradingspan, ou Whiskey en Moeder Adna.

 

Moeder Adna het in 1983 Franschhoek toe getrek. Daar was nie plek in haar bakkie vir ou Whiskey nie. Hy het in elk geval niks van 'n ryery gehou nie. Maar hy het ook sleg aangepas by sy nuwe huis waar daar 'n ander hond was. Toe laai my broer hom op die trein, en Moeder Adna gaan haal hom op Paarl se stasie.

Op elf jarige ouderdom het ou Whiskey 'n nuwe jeug êrens in homself ontdek. Hy en Bartho, die bure se St Bernard, het Franschhoek se berge saam met my gaan klim. Hulle het tarentale gejaag en gespeel soos jong hondjies. Whiskey was in sy element, want hy en Moeder Adna was weer bymekaar.

 

In 1986 het ek Franschhoek toe gegaan om getroos te word. Sewe weke na my troue het my bruid en 'n vriendin verongeluk, en my lewe was vir ewig verander.

Ek het op 'n trietsige reëndag haar as op die bergpas tussen Franschhoek en Grabouw gaan strooi. Ek moes afskeid neem. Terug by die huis het Moeder Adna en Whiskey vir my gewag - en 'n beker warm koffie.

Later, toe ou Whiskey al doof en blind was en sy tande een vir een uitgevrot het, het Moeder Adna 'n aptekersvriend gevra om ou Whiskey 'n genadedood te gee. Hy het Whiskey laat slaap, en daar êrens in die Franschhoekvallei is ons troosbrak begrawe.

Moeder Adna het my daarna gebel. Wie sou haar nou kon troos?

Ons het maar saam gehuil.