Die Operasie

© J. Francois Barnard – Februarie 2014

Jare terug open die 5:55 manne byeenkoms soos gewoonlik weer met ‘n yskraker: “Sê jou naam en die laaste operasie wat jy ondergaan het.”

Die weeklikse 5:55 manne byeenkomste bestaan gewoonlik uit sowat 40 tot selfs 80 manne, meestal tussen ouderdomme van 35 tot 55, wat kom skouerskuur en mekaar op ‘n geestelike gebied ondersteun. Die yskraker help nuwelinge ontspan, voeg humor by, en kry die wat daardie tyd nog deur die slaap is meer wakker.

“Ek is Piet Poggenpoel, en my laaste operasie was die verwydering van ‘n ingroei-toonnael”, trek die eerste ou weg.

“Ek is Jan Nel, en toe ek wakkerword, was dit reeds ses operasies verder. Ek was in ‘n motorongeluk.”

“Kosie Combrinck, my geboorte was die naaste wat ek nog aan ‘n operasie was!”

Die meeste voormalige rugbyspelers vertel van knie-operasies, ligamente wat geheg moes word, en pyne op plekke waarvoor ons nie eers name het nie. Maar tussen die pyne en skete lag almal vir mekaar, en leer hulle mekaar beter ken.

“Na my aambei-operasie het die song “Ring of Fire” vir my nuwe betekenis gekry!”

Vir die wat hulle middeljare tref, is daar natuurlik die operasie waaroor hulle nie wil uitpraat nie – die Vasektomie. Hierdie sensitiewe saak word met liegstories bedek.

“Kom ons sê maar”, lieg Karel openlik, “dit was ‘n kniegoperasie!” Hy reken hy is net ‘n paar sentimeters uit, so dit moet oraait wees om so te lieg.

Petrus beduie mooi: “Sou die dokter se mes gegly het, dan… dan… jislaaik manne….”, en hy skud sy kop.

So ek het besluit om nou maar hier te beduie wat so ‘n vasektomie behels, want tussen die geliegery deur kon die jongeres niks daaruit wys word nie.

En wys moet hulle mos word.

 

Die ding is van voor tot agter ‘n verleentheid vir ‘n man van by die 40, want hy moet oor goed praat wat hom ongemaklik laat voel. Hy en Mammie weet dat ‘n swangerskap nou net sal moeilikheid maak. Maar na jare op die Pil het haar hormone al so begin hande klap, dat hy die applous nie meer kan hanteer nie.

Al uitweg is die mes, en dit laat hom worry. WORRY in hoofletters!

 

Fase Een is ‘n besoek aan Dokter Sakkie Snyman by die Urologiese Hospitaal in Pretoriusstraat. Dokter vra vrae, en Meneer antwoord traag.

“Hoeveel kinders het jy?”

“Twee.”

“Jy weet ons kan later die operasie terugdraai, maar dis nie altyd suksesvol nie. Is jy seker jy wil dit doen?”

“Ja.”

“Vertel my van enige vorige operasies of siektes wat jy al gehad het?”

Meneer vertel van oorinfeksies op ouderdom twee tot twaalf, en tande wat getrek moes word, en net toe sy tong nou lekker losraak, smoor Dokter Sakkie hom met die volgende vraag: “Vertel my van jou sekslewe?”

“Ummm… dis goed, dankie.”

“Gereeld genoeg?”

“Ja”, lieg deur sy tande, en wonder wat Mammie nou sou sê.

“Jy sukkel nie om ‘n ereksie te kry nie?”

“Nee”, en hy kyk na die deur. Hy wil nou hier uit, maar die volgende skok lê net om die draai.

“Nou kom ons gaan kyk hoe dit lyk”, sê Dokter Sakkie, “trek jou broek af en sit vir my daar.”

Die aardigheid daarvan as ‘n ander man jou juwele in sy hand hou terwyl hy stip daarna staar is net oorweldigend. Dan draai Dokter Sakkie sy kop so skuins soos ‘n verwonderde Spanjoel en sê: “Hmmm, jy kan maar weer aantrek.”

Nog voor jy kon sê scalpel was die broek op en die gordel vasgetrek. As daar kruisbande was sou dit ook al oor die skouers gehaak gewees het. En ‘n osketting met ‘n slot!

Dokter Sakkie verduidelik dan die tegniese aspekte van hoe die delikate prosedure verloop, en Meneer begin klaar te bid dat Dokter se hande tog nie moet bewe nie. O ja, hy moet asseblief tog, Here, ook nie nies nie. Amen.

“Jy het nou ‘n keuse”, kom Dokter in vir ‘n landing, “of jy onder narkose wil wees, en of ons net lokale verdowing moet gee?”

Besluite, besluite. Narkose is duur, en as jy vir jouself werk, is jy langer uit aksie uit. Lokale verdowing… die gedagte aan ‘n lang spuitnaald hier by jou lendene is vreesaanjaand.

“Terwyl jy dink daaroor”, gaan Dokter Sakkie verder, “jy moet voor die tyd sorg dat jou skrotum mooi skoongeskeer is.”

Information overload! Information overload! Die sirenes skree en Meneer se kop, maar hy hou sy gesig reguit en waardig.

“Natuurlik, Dokter, en ek sal die lokale verdowings opsie neem.”

 

Fase Twee daag te gou op. Terug by die Urologiese Hospitaal, parkeer Meneer sy motor gat eerste in die parkeerplek in – soos ‘n getaway car. Hy is alleen en boek homself in. Oor twee ure is alles verby, en dan moet hy hier uit.

Twintig minute later lê hy op ‘n smal bedjie. So smal dat ‘n mens mos voel jy gaan na twee kante toe afval. ‘n Mollige verpleegster met ‘n kopdoek op, wat meer soos ‘n skoonmaker lyk, kom verneem of Meneer wel alles mooi skoongeskeer het?

“Hier sterf ek tien dode”, dink Meneer by homself.

“Kan ek maar kyk?” vra sy toe hy nie gou genoeg antwoord nie.

“Nottedonner!”, wil hy skree, maar antwoord beskaafd: “Toemaar, alles is reg, dankie.”

In die operasiesaal wag ‘n opgeskropte Dokter Sakkie Snyman en sy vroulike assistent Meneer in.

“Wil mans nie assisteer nie? Maar, sou dit enigsens beter gewees het? Nee, liewer dan nie. Eintlik wil ek net hier uit!” skiet die gedagtes deur Meneer se kop.

Die maklikste uitweg is om te maak of jy wel onder narkose is en jou oë toe te hou. Lê soos ‘n lam wat lewendig van onder af geslag word, en bid dat alles net verby wil gaan.

Nadat die naald die lendene verdoof het, wonder Meneer of hy ooit weer dáár iets gaan voel? Hulle karring waar nie gekarring moet word nie, en hy voel dit nie. Aardig!

‘n Halfuur later kondig Dokter Sakkie aan dat alles reg is, en dat Meneer kan gaan aantrek. “Ek hoop jy het sommer ‘n lekker los broek saamgebring? Dis mag dalk sensitief wees later.”

Meneer het nie gedink aan ‘n los broek nie. Hy het net die denim waarmee hy gearriveer het. Sal maar ekstra pynpille drink.

Die volgende dag se selfondersoek wys blou kolle waar niks nog ooit blou was nie. Die denim was nie ‘n goeie idee nie. Maar Meneer is rustig vir nou. Dis Fase Drie wat oor ‘n week kom wat begin spook.

 

Fase Drie neem Meneer terug Urologiese Hospitaal toe. The proof of the pudding is in the eating, en vandag moet hulle bepaal of die operasie wel suksesvol verloop het.

“Dit beter wees, want wéér ‘n keer doen ek dit nie”, sê Meneer vir homself.

‘n Jongerige dame aan die ander kant van die toonbank gee Meneer so ‘n klein plastiekhouertjie wat hy moet gaan… hoe vertel ek nou verder hierdie storie? Seker het sy net haar werk gedoen, maar dit was asof sy hom té betekenisvol aangekyk het.

“Hier is die emmer, en jy kan kan maar melkstalle toe gaan. Gaan melk die bul en geniet dit hoor!” sê sy nie, maar Meneer dink dit. Terwyl hy daar in ‘n hokkie agter ‘n gordyntjie sit en dink aan die onlangse onderonsie, wonder hy wat hulle sal maak as hy skree: “Nursie! Kom sit ‘n bietjie handjie by!”

Die oorhandiging van die houertjie was weer net so aardigheid, en Meneer vermy enige oogkontak. Hy gee sulke lang tree deur toe om net weg te kom.

‘n Week later laat weet Dokter Sakkie se ontvangsdame: “Meneer, die operasie was ‘n sukses!”

Meneer wou sommer huil van verligting…