My native language is Afrikaans. The youngest, and most modern language in the world! When I started this blog, I translated many of my articles into English. But some are bound to the idiom used in Afrikaans, and without this idiomatic context, the reader cannot understand what I mean. For instance, I cannot translate "En ekke vir jou" into English. The direct translation would be: "And I for you" which makes no sense. (The protagonist actually meant: "And I love you too!")

Dutch readers, however, should be able to follow most of the text. If you did, share it with your friends on Facebook or contact me. It is always lovely to get some feedback.

En Ekke vir Jou

© J. Francois Barnard – Oktober 2014

Die winter van 1983 wat besonders koud gewees in die Vrystaat. Dit het laat nog gereën, en ons tente op De Brug was sopnat en deurweek gewees. Toe die sneeu by Colesberg val en die wind vandaar af oor die vlaktes waai, het ons nat tente kliphard gevries.

Ek onthou nog die blink spikkels teen die tent se dak soos wat die vog in die seil gevries het. My linkerbeen was die vorige dag in 'n vollengte gips geplaas by 3 Militêre Hospitaal in Bloemfontein. Ek het die aand nog baie versigtig in die bed geklim omdat die gips nog klam was. Die gips was ook besig om te vries, en hierdie Bosvelder het 'n intense afkeer in die Vrystaatse winter ontwikkel. 'n Jaar later was ek dus sterk gemotiveer gewees om nie weer 'n winter in die Vrystaat deur te bring nie.

'n Paar ander motiverings het bygekom. Deur my toedoen het Sersant Lappies so baie ekstra dienste by die RSM gekry, dat hy vir maande lank nie weer die binnekant van 'n kroeg sou sien nie. Hy het my belowe dat hy sou sorg dat my lewe uiters onaangenaam sou wees. Hy sou die $%^&*'ste jobs vir my uitdink om te doen. Een van hulle was om 'n organigram van die eenheid op te stel. Terwyl ek daarmee besig was het die Bataljonbevelvoerder gesien wat ek doen. Hy was so beindruk gewees dat ek geweet het dat al die guns wat ek by die sersant verloor het, ek weer by die kolonel gewin het.

My versoek om op afgedeelde diens na 61 Gemeganiseerde Bataljon Groep oorgeplaas te word was deur die bevelvoerder toegestaan. Nee, nie net toegestaan nie, hy het dit persoonlik sterk gemotiveer. 61Meg was sy vorige eenheid, en hy sou alles doen om hulle te help. Lappies sou dit teëgestaan het as hy daarvan bewus was, maar ek het met die samewerking van 'n ander stafsersant dit reggekry om hom op 'n kursus in Pretoria te boek. Ons moes eenvoudig die onaangename man uit die pad kry.

 

Ek het dus in Junie 1984 by 61Meg aangekom, waar dit 12 maande van die jaar somer was. Alhoewel ek na Omithea moes gaan om in te klaar, was ek eintlik in Tsumeb gestasioneer by die eenheid se hoofkantoor.

My “kamer” was 'n 16x16 tent met 'n sementvloer. Vir 'n maand was ek alleen in die tent, toe ek dit moes deel met twee militêre polisie onder-korporaals. Hulle het net die vorige jaar uitgeklaar en hierdie was hulle eerste kamp. Dat dit 'n drie maande kamp was, het hulle nie beindruk nie. Aanvanklik het niemand geweet wat hulle daar moes doen nie. Die sekerheidsoffisier het 'n week later onthou dat hy polisiemanne aangevra het vanaf Leër HK in Pretoria.

Omdat ek nie hulle name kon onthou nie, het ek hulle byname gegee: Baardbek en Riwwebeen. Eersgenoemde had 'n diep, donker basstem komende uit 'n diep, donker bosbaard, en laasgenoemde met sy gladde gesiggie was weer so maer soos 'n draadkameel. Ek dink hy het seker net eenkeer per week geskeer.

Riwwebeen het direk na sy diensplig in die Staatsdiens begin werk, verlief geraak en getrou. Terwyl hy en die liefde van sy lewe hulle troue beplan het, was 'n telegram by sy ouerhuis afgelewer. Die nare papiertjie het hom in kennis gestel dat hy nie twee weke wittebrood sou hê nie, maar slegs een week. Hy moes daarna by die Provost Eenheid in Pretoria aanmeld vir sy eerste drie maande kamp.

My privaatspasie moes ek dus met twee unhappy campers deel. Om die waarheid te sê, hulle was beide meestal nors gewees. Die feit dat ek een streep meer as hulle op my arm gedra het, het darem in my guns getel. Hulle het nooit probeer om my rond te donner nie.

Een aand was ek van 6 tot 6 wagbevelvoerder gewees. Die wagte was uitgeplaas en die ander HK troepe het in hulle bungalow, 'n ou koeistal, na The Jazz Singer gekyk. Op Betacam. Ek het agter die hoë toonbank gesit terwyl 'n radio saggies gespeel het. Ek het gehoor dat iemand die dienskamer binnekom en na die muntfoon toe loop. Dit was Riwwebeen.

Hy het 'n sak vol twintigsent muntstukke op die toonbank neergesit en 'n handvol munte daaruit gehaal. Hy het omtrent vyf muntstukke in die foon gegooi en sy vrou in die States gebel.

“Hallo Bokkie, dis ekke!”

'n Gil van vreugde het deur die handstuk gekom.

“Ja, en ekke vir jou.”

Stilte.

“Ons is drie in 'n tent. Ek en Baardbek en Korporaal Barries... ja, en ekke vir jou.”

Stilte.

“Ja, natuurlik is Korporaal Barries 'n man! En ekke vir jou.”

Elke nou en dan moes hy die honger foon munte voer terwyl hulle ketoolse geluide vir mekaar maak. Uiteindelik het die einde gekom.

“Ek moet nou koebaai sê... en ekke vir jou! Ja, en ekke vir jou.”

 

Ek was die hele week aan diens gewees, en moes elke aand hierdie gesprekke aanhoor. In die begin was dit amusant, later was dit irriterend.

Teen die Vrydagaand het die gesprek 'n nuwe wending geneem.

“Hallo Bokkie! Dis ekke!”

Weer die gil en 'n lang stilte.

“Ja, en ekke vir jou.”

Stilte.

“Goeie nuus? Watter goeie nuus?” vra hy agterdogtig.

“Jy het wat?!?”

Stilte.

“Nee $%^&*), Bokkie! Jy het bedank?”

Stilte.

Langer stilte.

“Hoe de %^&*!@# gaan ons die woonstel betaal?”

Stilte.

“By jou ma-hulle? Nee $%^& Bokkie! Jou boetie gaan my hifi opdinges!”

Stilte.

“Ja, oukei... ja, en ekke vir jou”, eindig hy die gesprek. Hierdie keer met minder oortuiging in sy stem.

Duidelik was daar 'n anakonda in die paradys.

Die volgende dag verduidelik hy die storie aan my. Sy vrou het bedank by haar werk. Sy gaan oor 'n week of wat haar pensioengeld en hulle woonstel se deposito vat en Suidwes-Afrika toe vlieg. 'n Bus sou haar van Windhoek na Tsumeb neem. Al hulle meubels stoor sy by haar ma-hulle.

Hy het verduidelik hoe hy gesukkel het om 'n ordentlike woonstel vir hulle te kry, en nou het sy dit opgesê, en sommer haar werk ook bedank. Maar die vooruitsig dat sy na hom toe sou kom was te wonderlik, en hy het so 'n swaapagtige glimlag op sy bakkies gekry wat ons almal met geweld wou afvee.

“Waar gaan julle bly?”, piepie ek sy battery sopnat.

“Nee, ^&*(*(@#$% Barries, wat de hel moet ek maak?”

“Wel, julle bly nie hier saam met my en Baardbek in die tent nie!”

“Nee, @#$%^&*()!!”

Die eenheid se suster en haar dokterman het in die permanente personeel se kwartiere gewoon in die dorp. Die Weermag het vir die hulle 'n klomp tydelike geboue opgerig. Miskien kan sy vir Riwwebeen met 'n woonstel help.

 

'n Paar dae later was ek in my kantoor besig om die HK se rantsoene te administreer toe ek seker so teen 11 uur 'n oproep van die hek af kry.

“'n Vroumens wat hier wil inkom, Korporaal. Met soetkys en al!”, het Dirk sy ontsteltenis te kenne gegee.

Ek het gaan kyk.

By die hek was 'n kort, jong dametjie met 'n ronde gesiggie en styf gepermde krulletjies al om die kop. Nou nie so maer soos Riwwebeen nie. Kom ons sê liewer pleasantly plump. Die vlug vanaf Jan Smuts Lughawe na Windhoek, en die busrit vanaf Windhoek na Tsumeb het duidelik uit haar hele wese gestraal. Sy was poegaai. Ek het haar soetkysie gevat en haar ingenooi.

Sy het by Gisela, die Duitsertjie in ons kantoor, gaan sit. Die twee het begin klets, tee gesuip en army koekies gevreet asof hulle dit al jare lank doen. Ek het vir Baardbek en Riwwebeen op die radio gaan soek.

Hulle was in die Tsumeb lokasie besig om 'n saak te ondersoek, en die sekerheidsoffisier was saam met hulle. Ek het geweet hulle gaan lank daar wees, en liewer nie gesê dat Riwwebeen se Krullebol gearriveer het nie.

Hier teen 5 uur het hulle teruggekeer, en die weersiens sedert die wittebrood was iets om te aanskou. Hulle het mekaar omsingel en beklou dat dit 'n aardigheid was. Gisela het ons almal gemaan om nie te staar nie.

Terwyl Krullebol iets kloek in Riwwebeen se oor, reageer hy met “En ekke vir jou”. Die gekloekery wou nie end kry nie.

“Ek dink jy moet jou goed gaan pak”, het ek hulle weer aarde toe gebring. “Baardbek kan julle met die polisiebakkie woonstel toe vat.”

Riwwebeen en sy swaap-glimlag het tent toe gestorm om al sy goed te gaan pak. Vyf minute later het hulle in die bakkie geklim en verdwyn. Vir drie dae was Riwwebeen op AWOL, maar niemand wou 'n DD1 daarvoor uitmaak nie. Siestog, die arme goed, het ek gedink, en die suster gaan vra of sy nie net wou gaan kyk of die twee nie al gedehidreër het nie.

 

Die transformasie in Riwwebeen se gedrag was astronomies. Skielik had hy meer moed en selfvertroue as ooit tevore. Ek het nooit geweet hy kon so joviaal en luid wees nie.

Ons het 'n paar dae later 'n braai gehad, en omdat ek nie die army varktjops kon uitstaan nie, het ek vir my skaaptjops in die dorp gaan koop. Krullebol had dieselfde ideë, en ek het haar by die slagter gekry. Sy wou by my weet waar sy bier kon koop.

“Nie hier in die dorp nie. Dis goedkoper in die Weermag se kantien.”

Daardie aand het ons almal om 'n halwe 44 gelling drom gestaan en ons tjops gebraai. Riwwebeen het luid gesels met sy arm om Krullebol se lyfie en 'n Amstel in die ander hand. Ek het gemerk hoe bekommerd sy na hom kyk toe hy nog 'n Amstel oopmaak sonder dat hy enige kos in sy maer lyf gestop het. Dan kloek sy in sy oor, en hy reageer met “Nee, eksh oraait! En ekke vir jou!”.

Die chef het die mieliepap en sous op 'n tafel kom neersit, en my vleis was al amper gaar. Riwwebeen se tjops was egter al lankal by gaar verby, maar hy het dit nie agtergekom nie. Toe ek my tjops in my bord inskep, en net 'n paar gebrande offerhandes oorbly op die rooster, besef Riwwebeen daar is moeilikheid.

“Barriesh!”, sleep sy tong, “dish mosh my tjopsh daai!”

“Nee, dis myne, joune lê nog in die hel op die rooster.”

“Barriesh, moenie met my $%^& shoek nie. Ek blikshem vir jou!”

Ek kon vir hom gesê het dat hy nie eers kan agteroor bliksem nie. Ek kon hom geignoreer het, maar die versoeking was te groot.

“Riwwebeen, en ekke vir jou!”