Hondename

© J. Francois Barnard – Augustus 2018

As jy ooit oorweeg het om jou honde na my toe bring om opgepas te word terwyl jy vakansie hou, onthou tog om my te sê wat die goed se name is?

Neem nou my vriend Tewie. Hy’t totaal vergeet om te sê wat sy brakke se name is. Hy het net verduidelik van die pille en die water en die komberse. Wat hulle name is het hom ontgaan om te sê, en, dom van my, ek het ook nie gedink om te vra nie.

So, toe hy drie weke later van Dubai af terugkeer om hulle te kom haal stop hy met sy motor voor my huis. Ek bring al die honde-toebehore en ons laai dit in die bagasieruim. “Bubbles! Spagetti!”, roep hy sy brakke maar niks reageer op dié name nie. Ek gaan soek hulle toe. Daar agter op die plaveisel langs die swembad lê die twee in die son uitgestrek.

“Kom! Julle Baas is hier”, praat ek met hulle. Hulle oë roer, maar hulle staan nie op nie.

“Bubbles! Spagetti!”, probeer Tewie weer, maar hulle steur hulle nie aan hom nie. So ek moet maar my stem dikmaak:

Dubbeldom! Drol! Loop klim in die kar!”

Soos vetgesmeerde blits spring die twee op en hol kar toe.

Onthou nou volgende keer as jou honde by my moet kom kuier?