Moord in Muckleneuk

© J. Francois Barnard – Maart 2014

Ek was 6 jaar oud toe ek ‘n moordenaar geword het. Dis wat Cecilia en Adam my genoem het - ‘n moordenaar. Met ‘n terugblik vandag sou ek dit nie moord noem nie. Miskien manslag. Maar in elk geval, ek het weggekom daarmee! Of het ek?

Dit het alles by ‘n hond begin – Vaalpiet. Vaalpiet was die grys Weimaraner wat Pa by Bobaas Hondeplaas gekoop het. Met papiere en al. Hy het daar aangekom met blou oë, en ‘n paar maande later het hulle groen geword.

‘n Pragtige dier, maar uiters ongewild by Kietiekat, wat nog altyd onder die indruk was dat sy die koningin van die werf was.

Kietiekat was swart met wit pootjies, en ‘n wit vlek oor haar bors en keel. Sy het die indringer met skerp naels op ‘n afstand gehou. As sy regtig dikbek was, het sy hoog in die peerboom in die agterplaas gaan sit.

Pa het vir Vaalpiet ‘n halsband en ‘n leiketting gekoop. Die halsband was baie gou te klein vir die vinnig groeiende hond, en Adam het my gewys dat jy die leiketting om Vaalpiet se nek kon sit en die punt van die ketting deur die lus vir jou hand kan trek. Dit het hom wel gewurg as jy met hom gaan loop, maar hy was dikvellig genoeg gewees om dit te kon hanteer.

Adam kon allerhande planne maak. Hy is drie jaar ouer as ek, en baie slim. Maar ek was ook nie dom nie. Ek kon al sy slim planne goed toepas. Op Vaalpiet en… kom ons probeer dit op Kietiekat? Hoe sal dit lyk?

Kietiekat het nie gehou van die ketting om haar nek nie. Sy het met ‘n vaart weggehol, en Vaalpiet het gedink dis ‘n speletjie. Toe hulle om die hoek verdwyn het ek belangstelling verloor en met iets anders gaan speel.

Sowat ‘n uur of drie later het Alice vir Ma geroep. “Miesies! Die kat hang by die boom!”

Kietiekat moes in die peerboom gespring het en soos oudergewoonte gepoog het om op die hoogste van hoë takke te gaan sit. Die laaste end het ‘n sprong geverg, maar die ketting om haar nek het in die takke verstrengel geraak. Sy het haar bestemming nie bereik nie. Die ketting het styf getrek en die stomme dier het dood gewurg.

“Jy het haar vermoor!”, het my broer en suster gesê toe hulle vir Kietiekat aan die ketting sien swaai. Ek het agter Ma se rokspante gaan skuiling soek.

Ma het haar jongste broer wat daar gekuier het gevra om te help, en Kietiekat was agter Cecilia se pophuis in die hoek van die erf ingespit.

Die volgende dag was die moord-episode vir my verby, en ek het vir Adam in die agterplaas gaan soek. Hy het met sy rug na my toe gesit langs die pophuis. Op die klein hopie grond voor hom was daar drie oranje kappertjies en ‘n paar kappertjieblare. ‘n Skoendoos se deksel het regop op die punt gestaan met ‘n inskrywing op:

RIP
Kietiekat
5 Julie 1970

Adam het omgedraai en vir my gekyk. Sy gesig was vuil van die stof, en die trane het twee paaie skoongewas oor sy wange. “Trek jou skoene uit, Francois”, het hy gesê, “jy staan op heilige grond!”

Dis nou 44 jaar later. Cecilia en Adam het seker al lankal vir Kietiekat vergeet. Maar ek het nie. Dis nou tien voor een op 'n Sondagoggend en ek kan nie slaap nie. Ek dink nie ek het weggekom met hierdie moord nie!