My native language is Afrikaans. The youngest, and most modern language in the world! When I started this blog, I translated many of my articles into English. But some are bound to the idiom used in Afrikaans, and without this idiomatic context, the reader cannot understand what I mean. For instance, I cannot translate "En ekke vir jou" into English. The direct translation would be: "And I for you" which makes no sense. (The protagonist actually meant: "And I love you too!")

Dutch readers, however, should be able to follow most of the text. If you did, share it with your friends on Facebook or contact me. It is always lovely to get some feedback.

Opstaantyd

© J. Francois Barnard – Februarie 2014

Die jaar 1904 het die Afrikaner vuisvoos en platgeslaan bevind. Maar die geskiedenis leer ons dat hy weer vining opgestaan het. Alhoewel die vredesverdrag op papier geteken was, het die vrede in die kop egter nie so gou gekom nie. ‘n Paar staaltjies uit my eie familiegeskiedenis skilder vir ons prentjies uit daardie tyd.

Die Barnards van Rustenburg

My Oupagrootjie van Rustenburg was ‘n perdeboer. Jy moet nou verstaan dat daar daardie jare nie ‘n Ford of Chrysler fabriek was nie. Express transport was ‘n perd. Vragvervoer was ‘n wa en osse. As jy nuwe tegnologie wou aanpak, het jy trein gery.

Voor die oorlog het President Paul Kruger begin perde opkoop vir die kommandos. Hoeveel perde my Oupagrootjie verkoop het aan die Staat, weet ons vandag nie, maar dit moes honderde gewees het.

Daarvoor het hy goue ponde gekry, en dit moes hy bewaar. “Bewaar” was ‘n gat in die grond. Hy het die ponde in ‘n leersak onder ‘n paal in sy perdekraal geplant.

Met die uitbreek van die oorlog was daar nog 800 teelperde oor in die kraal. Die Engelse het vir hulle oorlogstryd die perde kom “konfiskeer”, het hulle gesê. “Gesteel”, het Grootoupa gesê.

Na die oorlog was Grootoupa bitter oor die verlies van sy 800 perde. Daar was bitter min gereedskap beskikbaar om die boerdery weer op die been te kry. Hy het met ‘n buffelhoring ‘n kanaal gegrawe vir besproeing, omdat hy nie ‘n graaf of ‘n pik kon koop nie.

Maar hy het darem sy goue ponde gehad. Klaarblyklik het hy sy bure wat swaargekry het na die oorlog, se plase opgekoop. Dan kon hulle daar aanhou boer en hom weer terugbetaal. Hoeveel van hulle hy weer op die been gehelp het, weet ons nie vandag nie. Of almal hom ook altyd terugbetaal is te betwyfel. Al wat sy kinders bly oorvertel het, was dat hulle bitter was oor die 800 perde.

Maar kom ons skuif nou my storie sowat 60 jaar aan.

My pa was eers ‘n Spoorwegingenieur, daarna ‘n Yskor ingenieur. Yskor het in die vroeë 1960’s by die Duitsers rotoroonde gekoop om staal te vervaardig. Maar die oonde het probleme gegee. Pa met sy spoorweg agtergrond het ‘n “lanskar” gebou wat op twee spore heen en weer kon beweeg. Die “lans” was ‘n waterverkoelde pyp wat suurstof binne die rotoroond in die gesmolte staal ingeblaas het. Die probleem was opgelos.

Maar die Britte het dieselfde rotoroonde by die Duitsers gekoop, en dieselfde probleme ervaar. Pa het Brittanje toe gevlieg en sy lanskar-idee aan die Britte verkoop. Binne ‘n jaar of wat kon die Britte ook staal vervaardig daarmee, en hulle het ‘n afskeidspartytjie vir die Boertjie van Rustenburg gehou.

Hulle het toe ook sommer bevestig dat die uitstaande bedrag ten volle na Suid Afrika oorgeplaas was. “No”, sê Pa, “that was only the first down payment”. Die Britte stry. Hulle het alles betaal. “You do not understand”, verduidelik Pa, “you Brits still owe my family a lot after you stole 800 horses from us in the Second Boer War!”

Vrede was 64 jaar vantevore gesluit, maar die oorlog in die kop wou maar net nie klaarkom nie.