My native language is Afrikaans. The youngest, and most modern language in the world! When I started this blog, I translated many of my articles into English. But some are bound to the idiom used in Afrikaans, and without this idiomatic context, the reader cannot understand what I mean. For instance, I cannot translate "En ekke vir jou" into English. The direct translation would be: "And I for you" which makes no sense. (The protagonist actually meant: "And I love you too!")

Dutch readers, however, should be able to follow most of the text. If you did, share it with your friends on Facebook or contact me. It is always lovely to get some feedback.

Opstaantyd

© J. Francois Barnard – Februarie 2014

Die jaar 1904 het die Afrikaner vuisvoos en platgeslaan bevind. Maar die geskiedenis leer ons dat hy weer vining opgestaan het. Alhoewel die vredesverdrag op papier geteken was, het die vrede in die kop egter nie so gou gekom nie. ‘n Paar staaltjies uit my eie familiegeskiedenis skilder vir ons prentjies uit daardie tyd.

Die Horns van Morgenzon

Nadat die Standerton Konsentrasiekamp se hekke na afloop van die oorlog weer oopgegaan het, kon die vrouens, kinders en bejaardes huistoe keer. Dis nou diegene wat die begraafplaas vrygespring het. Maar baie wou nie dadelik gaan nie. Hulle het eers gewag dat die krygsgevangenes van Ceylon af moes terugkeer.

My een neef vertel dat sy oupa van Durban af met die trein tot op Standerton gereis het. Daar het hy sy vrou en kinders by familielede op die dorp gekry. Tussen hierdie kinders was ‘n dogter van twee jaar oud wat hy toe vir die eerste keer gesien het. Hy wou natuurlik so gou moontlik op sy plaas op Morgenzon kom, en die hele gesin het te voet soontoe geloop.

Op Morgenzon (47km vanaf Standerton) aangekom, was almal natuurlik al pootuit. Hy moes sy jongste dogter omtrent die hele end gedra het. Op die dorp het hy op krediet by ‘n handellaar ‘n sak meel gekoop en dit op die handellaar se geleende kruiwa gelaai. Die pad plaas toe met die ekstra vrag meel was natuurlik baie swaar.

Hy het sy dogtertjie op die grond neergesit, die kruiwa 20 tree gestoot en dit dan daar gelos. Dan loop hy terug na haar toe, tel haar op en dra haar tot 20 tree anderkant die kruiwa. Dan sit hy haar weer neer en draai om om die kruiwa te gaan haal. Hoe lank hulle reis vanaf Standerton tot op die plaas geneem het, is nie duidelik nie, maar dat dit hulle uitgeput het, is sekerlik so.

Op die plaas aangekom was daar net ‘n murasie oor waar hulle huis voorheen gestaan het. Maar die murasie was binne netjies skoongevee, en die verbrande dakbalke was verwyder. Buite onder ‘n bos was die huis se sinkplate netjies op mekaar gestapel. Duidelik het hulle ou plaaswerkers die werf vir hulle skoongemaak nadat die Britte die huis verbrand het.

Die sinkplate het hulle so skuins staangemaak teen die murasie om as skerm te dien teen die wind en weer. Hulle het daar onder die skerm ‘n vuur gemaak en kos gekook.

Binne ‘n jaar of wat het was die huis weer sodanig herstel dat hulle ‘n skaflike dak oor hulle kop gehad het. Buite was ‘n nuwe groentetuin aangeplant. Op die lande het ‘n belowende oes mielies gestaan.