My native language is Afrikaans. The youngest, and most modern language in the world! When I started this blog, I translated many of my articles into English. But some are bound to the idiom used in Afrikaans, and without this idiomatic context, the reader cannot understand what I mean. For instance, I cannot translate "En ekke vir jou" into English. The direct translation would be: "And I for you" which makes no sense. (The protagonist actually meant: "And I love you too!")

Dutch readers, however, should be able to follow most of the text. If you did, share it with your friends on Facebook or contact me. It is always lovely to get some feedback.

Oupa Kootjie en die Nutsman

© J. Francois Barnard – Junie 2013

Hier in die vroeë 1970's het ek en my broer by ons Oupa Kootjie Greyling op Standerton gaan kuier. Hy en Ouma het in Stanfieldhill se houthuise gebly. Stanfieldhill is tussen die tronk en die dorp op die Delmaspad.

(Hoekom die Britte vir hulle offisiere na die Tweede Wêreld Oorlog houthuise op Standerton gebou het, was nog altyd vir my duister. Maar dalk het ek die kat aan sy lugdraad beet. Dalk was dit na die Vryheidsoorlog gewees, alhoewel ek nie dink die houthuise so lank sou gehou het in Suid Afrika nie. Oupa s'n het na sy dood in 1982 afgebrand, en meeste van die ander is ook al gesloop en vervang. Laaste wat ek daar verbygery het, kon ek nog net een van die ou houthuise in Stanfieldhill waarneem.)

Omtrent elke tweede dag het Oupa ons dan in sy donkergroen Volksie gelaai en dorp toe gery. Die ryery was 'n ervaring op sy eie, want Oupa het net een oog gehad. Maar dis 'n storie vir 'n ander dag.

Op die dorp het hy eerste Ouma se lysie by die OK Bazaar afgehandel, en dan het ons na 'n kafee toe gegaan waar ons Toff-O-Luxe en koue Coke gekry het. (Stanfieldhill se kafeetjie by die vet tannie het net ou brood, Tiger toffies en warm Coke gehad.)

Maar oppad kafee toe loop hy eers iemand raak, en almal wil met Oom Kootjie gesels. Sy eerste naam is eintlik Jacobus, maar om hom te onderskei tussen die ander 12 boetjies en sussies, en dan seker die 100 neefs en niggies daarby, het hulle hom “Kootjie” genoem.

Ongeduldig wag ek dat ons by die kafee moet uitkom, maar die geselsery is ook interessant. Die Afrikaans wat hy gepraat het, was nie wat ek by die huis gewoond was nie.

Saam met die mense was 'n vreemdeling, en Oupa vra hom: “En hoe voer Neef die van?”

Ek verwonder my oor hierdie vraag. Neef se van moet 'gevoer' word. Is sy van dan honger?

“Stander”, sê Neef, en Oupa het die volgende vraag reg.

“Van vanmelewe se Standers na wie die dorp vernoem is?” Ek wonder waar op die aarde “Vanmelewe” dan is? Seker ook in die Transvaal? Ek is seker sy adres is Voortrekkerstraat 123, Vanmelewe, Transvaal.

Neef antwoord weer iets van die Kolonie en families word uitgelê. Ek raak ongeduldig en skop klippe en koeldrankdoppies rond.

“En wat is Neef se nering?”

Ek kyk Neef op en af om te sien waar sy “nering” dan sit.

“Nutsman!”, sê Neef trots, en Oupa het weer iets te sê.

Ek verstaan van hierdie pratery net mooi niks.

Later in die Volksie, terwyl sy valstande klap soos hy Toff-O-Luxe kou, lag Oupa, “Nutsman! Hahaha! Hy lyk vir my nie te nuttig nie!”