My native language is Afrikaans. The youngest, and most modern language in the world! When I started this blog, I translated many of my articles into English. But some are bound to the idiom used in Afrikaans, and without this idiomatic context, the reader cannot understand what I mean. For instance, I cannot translate "En ekke vir jou" into English. The direct translation would be: "And I for you" which makes no sense. (The protagonist actually meant: "And I love you too!")

Dutch readers, however, should be able to follow most of the text. If you did, share it with your friends on Facebook or contact me. It is always lovely to get some feedback.

Oupa Kootjie ry Durban toe

© J. Francois Barnard – April 2014

Dit moes so in 1976 gewees het toe Ma besluit het dat ons vir haar broer Michiel en gesin in Durban sou gaan kuier het. Durban is altyd 'n gawe gedagte vir 'n klein Transvalertjie, maar die trauma om saam met Oupa Kootjie en Ouma Sarie in 'n Volksie te ry, het jare daarna nog by my gespook.

Ma het 'n liggroen Peugeot 404 bakkie gery. Dis nou die dieselmodel. My broer Adam het voor saam met haar gery. Agter het die bakkie 'n bruin veselglas-tentjie gehad, en binne het 'n dik, pasgemaakte matras die laaibak bedek. Ek het myself gemaklik gemaak agter in die bakkie vanaf Pretoria tot in Standerton. Maar in stede daarvan dat ek nou daar gebly het, volg ek toe Ma se raad en klim agter in die wagtende, donkergroen Volksie in.

Die eerste stukkie pad dorp toe vanaf Stanfieldhill was maklik. Ouma was nog rustig. “Ons is nou in die Vrystaat!”, gesels sy vriendelik met my toe ons in Standerton oor die Vaalrivier ry. Oppad Vrede toe het Ouma nog vrede in haar hart gehad, want sy was mos hoeka 'n Vrystater. Dit was 'n sonnige dag en die donkergroen Volksie het die liggroen bakkie mooi gevolg.

“Bad luck!”, hoor ek die motorbedryf se goëllaars skree. Maar ons was nie bygelowig nie. 'n Groen voertuig was net wat dit was – groen, en 'n voertuig.

Wat ons seker gespaar het die dag, was die onvermoëns van 'n diesel Peugeot 404 bakkie. Dit kan slegs teen 'n afdraende af met die wind van agter, en die seën van Bo, 'n maksimum van 130km/h haal. Dat 'n Volksie met 'n eenoog bestuurder van 81 jaar oud haar gevolg het, en boonop haar jongste spruit as passasier daarin gehad het, het gemaak dat Ma haar spoed afgebring het na sowat 100km/h toe.

Myns insiens was die 100km/h ook te vinnig. Hier van Volksrust af was mooiweer net by Elders, want ons het deur Plek-Plek se miskolle gery. Ma se 100km/h het soos 200km/h in die Volksie gevoel.

Wat sake vererger het, was Ouma Sarie se senuwees.

Haar stemmetjie het dan twee oktawe hoër gegaan, en het skril deur Oupa en die agterste passasier se ore gesny. Die wat 'n Volksie ken sal weet dat die voorste passasier net bo die paneelkissie 'n klein reghoekige handvatsel het. Ouma het vooroor geleun en hierdie handvatsel met mening gepak. Sy het daardie Volksie se neus dan op die grond vasgedruk dat die voorwieletjies gekreun het. Ek lieg natuurlik nou, maar jy kry die prentjie.

Ek weet wat ek gebid het op die agterste sitplek. Wat Oupa gebid het kon ek nie weet nie, maar hy het al die pad geprewel. My ervaring van sy gebedslewe was tot “Segen Vader hierdie ete” beperk. O ja, hy het ook van “Wyk Satan!” geken, maar sou hy dit hier gebruik het, sou ons nooit in Durban aangekom het nie.

Die Peugeot se klein rooi liggies hier voor ons was maar dof in die mis, en Oupa het so na as moontlik daaraan gebly. Wanneer Ma by 'n stadige vragmotor wou verbygaan, moes sy vir beide haarself en die Volksie dink. Oupa het sy regter flikkerlig aangesit as die bakkie s'n aangegaan het. Come hell or high water, Oupa het ook verbygegaan. En dan sit hy weer die linker liggie aan as Ma links gewys het. As die remligte geskyn het, het hy rem getrap.

Dit klink alles reg en veilig, maar jy moes daar gewees het om dit te beleef.

Later jare het 'n rilling langs my ruggraat afgegaan toe ek met dieselfde Volksie die remme moes gebruik het. Ek het die Durban-rit onthou, en gewonder hoe ons ooit in een stuk daar aangekom het. Jy sien, wanneer jy rem trap, besluit die Volksie vanself dat hy nou links, of nee, dalk na regs gaan trek. Jy moes maar voel, en dan draai jy die stuurwiel anderkant toe om min of meer reguit te ry.

Dit was dan ook geen wonder dat Oupa elke keer die stuurwiel links en regs moes draai as hy sy voet op die rem gesit het nie. Dit het gemaak dat ek heen en weer geskud het op die agter sitplek. Die twee oues daar voor het 'n stuurwiel en 'n handvatsel gehad om aan te klou.

Wanneer daar aankomende ligte deur die mis geskyn het, het Ouma se skril stem geskree: “Daar kom 'n kar, ou Man!” Oupa het dan gereageer deur die Volksie links agter die Peugeot in te ruk sodat hy, en seker sy ook, nie die ligte meer kon sien nie. As die aankomende voertuig dan 'n groot vragmotor was, en die wind die Volksie geruk het, skree sy weer: “Dit was 'n lorrie, ou Man!”

By Estcourt het ons 'n waterstop gemaak. Dalk petrol en diesel ook, maar 'n waterstop – jy weet mos. Hoekom ek nie dadelik na die Peugeot gehardloop het en agterin gespring het nie, skryf ek vandag toe aan iets soortgelyks as die Stockholm-sindroom. Kom ek om, so kom ek om. Ek was weer agter in die Volksie in.

In Durban het ons lekker met die familie gekuier. Oupa en Ouma het hulle kleinseuns geniet, en die kleinseuns het die meeste van die vakansie gemaak.

Oupa het op 'n stadium vir Adam 'n klein silwer rewolwertjie gegee aan 'n sleutelhouer. Jy kon sulke klein, rooi klêps in die ding laai, en dan die skoot met 'n helse lawaai laat afgaan. Hy het Adam agter Ouma se stoel laat inkruip waar sy en Ma gesit en gesels het. Waaroor hulle gepraat het, sal ek vandag nie weet nie, maar Ouma se stemtoon het onder begin, en geleidelik al hoe hoër geklim tot waar sy begin grens het. Dan antwoord Ma, mos altyd almal se berader en klankbord, en Ouma se stemtoon begin dan weer daar onder.

Ek en Oupa het Adam dopgehou. Hier vlak agter haar stoel trek hy toe die skoot af. Ouma wat op haar dae 'n nywerheidskool vir meisies se matrone was, het geen tekort aan 'n woordeskat gehad wanneer dit by skrik kom nie. Dit het teen 'n hoë volume en 'n stortvloed uitgekom, en Oupa het geskaterlag. “Hahaha! Hoor hoe vloek die ou vrou!” Sy het haarself ten gronde geskaam, en Ma het met ons geraas.

Die pad terug was somber en eentonig. Daar was minder verkeer en Ouma was rustiger. By Standerton het ons van hulle afskeid geneem en teruggery Pretoria toe. So traumaties as wat die rit af Durban toe was, sou ek dit weer doen. Net omdat hulle my gunsteling Oupa en Ouma was!