My native language is Afrikaans. The youngest, and most modern language in the world! When I started this blog, I translated many of my articles into English. But some are bound to the idiom used in Afrikaans, and without this idiomatic context, the reader cannot understand what I mean. For instance, I cannot translate "En ekke vir jou" into English. The direct translation would be: "And I for you" which makes no sense. (The protagonist actually meant: "And I love you too!")

Dutch readers, however, should be able to follow most of the text. If you did, share it with your friends on Facebook or contact me. It is always lovely to get some feedback.

Oupa Kootjie, die Glasoog en die Minirok

© J. Francois Barnard – Junie 2013

Dit was 'n hele gedoente gewees – net om 'n nuwe oog te kry.

Oupa Kootjie het sy een oog al jare gelede verloor terwyl hy 'n perd se hoef beslaan het op die plaas. 'n Splinter het in sy oog beland en die dokter moes dit verwyder.

Ek het hom so leer ken. Twee oë in die dag, en een in die nag. Snags het hy die glasoog in 'n glas water gebêre op sy bedkassie, langs nog 'n glas met tande in. By Ouma se bedkassie was daar net een glas. Ook met tande in.

Maar seker in 1970 of 1971 gee die ou glasoog toe moeilikheid, en Oupa moes 'n nuwe een kry. En daarvoor moes hy Johannesburg toe gaan.

Hy en Ouma het die donkergroen Volksie met hulle groot tasse gelaai en van Standerton af tot op Pretoria gekom. Ma het die dokter in Johannesburg geskakel en alles was gereël. Ook hoe hulle tot daar moes ry, en waar hulle kon parkeer. Dit sou hulle die hele dag lank neem.

Ouma het by ons gebly, en Ma en Oupa Kootjie was fort al om die Fonteine Sirkel oppad Johannesburg toe. In Johannesburg se middestad het Ma parkering gekry by die Sanlamgebou. Vandaar af moes hulle met 'n bus tot by die dokter ry.

Die dokter het gemeet en gepas, en verduidelik hoekom die ou oog ongemaklik raak. Oor ses weke sou hulle die nuwe een kon kry.

Nadat hulle 'n roosterbroodjie en tee genuttig het by 'n straatkafee, moes hulle die bus weer terugneem na die Sanlamgebou toe.

Teen daardie tyd was die Johannesburgers al oppad huis toe. By die busstop het 'n lang tou mense gestaan, maar die ordentlike mense van daardie tyd het darem die ou oom en sy dogter kans gegee om eerste op te klim. Ma het betaal en Oupa het 'n sitplek by die venster gekry. Van daar kon hy die mense wat nog in die tou gestaan het dophou.

Die bus was seker halfvol gewees, toe Oupa en al die jonger mans op die bus die vordering van 'n jong dametjie in die tou daar buite gevolg het. Sy het so 'n effense minirokkie aangehad, met lang bene wat die prentjie afgerond het.

Nou Oupa Kootjie was effens doof ook, en daarom het hy harder gepraat as wat nodig was. Hy leun toe oor na Ma toe en sê met 'n bulderende stem: “Sy kon ook maar laat staan het!”

Die dametjie het die bus betree onder 'n dawerende gelag, en kon nie verstaan hoekom almal so vriendelik na haar kyk nie.

Oupa Kootjie se gesonde oog het al lankal anderkant toe gekyk. Johannesburg was 'n vreemde plek.