My native language is Afrikaans. The youngest, and most modern language in the world! When I started this blog, I translated many of my articles into English. But some are bound to the idiom used in Afrikaans, and without this idiomatic context, the reader cannot understand what I mean. For instance, I cannot translate "En ekke vir jou" into English. The direct translation would be: "And I for you" which makes no sense. (The protagonist actually meant: "And I love you too!")

Dutch readers, however, should be able to follow most of the text. If you did, share it with your friends on Facebook or contact me. It is always lovely to get some feedback.

Slim Ma, Slim Hond

© J. Francois Barnard – Maart 2016

Die begrafnis was al verby, en ons het tee gedrink na die tyd, toe ‘n vriendin van die oorledene my dié storie oor haar vertel. Kapokkie Elliot se kinders was nog kleuters op hulle hoewe in Broederstroom, toe daar ‘n groot behoefte aan ‘n hond ontstaan het. ‘n Griek het ‘n kafee daar naby gehad, en sy teefhond het sopas kleintjies gehad. En ja, hulle kan enetjie kry.

Die kinders was in ekstase oor die nuwe toevoeging by hulle gesin. Maar wat kon hulle hom noem? ‘n Hond moet darem ‘n gepaste naam hê, en siende dat sy oorsprong die Griek se kafee was, word die hond toe “Papadopoulos” genoem. Dis mos Grieks, en die Elliots was tevrede.

Papadopoulos het vining gegroei, en die kinders en die hond het mekaar flou gespeel.

 

Eendag het daar kuiermense gekom. Hulle het ‘n klein seuntjie gehad wat saam met haar kinders en Papadopoulos buite gespeel het, terwyl die grootmense binne gekuier het. Die seuntjie het ‘n bietjie rof met Papadopoulos aangegaan, en sy keelvelle bymekaar gefrommel en die hond begin wurg.

Nou wat maak ‘n hond wat begin benoud raak? Hy het net een ding tot sy beskikking: ‘n Bek met tande. Hy hap toe na die seuntjie, en byt hom in die gesig. Dit was baie traumaties vir almal, want die arme kind se gesig was erg stukkend, en die bloed het geloop.

Die seuntjie se ouers was baie ontsteld, en het hospitaal toe gejaag. Die uiteinde was dat hy plastiese sjirurgie moes kry. Natuurlik het Kapokkie baie sleg gevoel oor die insident, en gevoel dat hulle iets drasties moes doen.

Die Elliots het almal saamgestem dat Papadopoulos eintlik onskuldig was, maar as jy niks doen nie, keur jy mos goed wat gebeur het.

Iets moes gedoen word.

Haar kinders was by die kleuterskool toe ‘n boer in die omgewing vir Papadopoulos kom haal het. Hy het baie honde gehad, en het ‘n goeie huis vir die hond aangebied. Maar wat kon sy haar kinders vertel?

Kapokkie kon op haar voete dink, en die storie het toe so uitgekom: “Papadopoulos was baie lelik met daardie kind gewees. Hy moet mooi maniere geleer word, so ons het hom Hondeskool toe gestuur.”

Die kinders was tevrede, al was hulle hartseer omdat die hond weg was. Hulle hond is slim, maar moet mooi geleer word.

Die Hondeskool-storie het gewerk.

 

Hier na die einde van die jaar se kant toe, was die koerante vol oor al die matrieks wat so goed gedoen het. Daar was ses, sewe en selfs een kandidaat met agt onderskeidings. Die Transvaalse Onderwys Departement het die uitslae in die koerante gepubliseer, en onderhoude met die slimstes gevoer.

Tot die plaaslike radiostasie het berig daaroor. Die Elliot-kinders hoor toe die stert van die storie oor die slim kandidate se uitslae. Daar was een kandidaat, ene Papadopoulos, wat agt onderskeidings gekry het!

Die Elliot-kinders was so trots op hulle slim hond. En die slim ma het geskud soos sy lag!