My native language is Afrikaans. The youngest, and most modern language in the world! When I started this blog, I translated many of my articles into English. But some are bound to the idiom used in Afrikaans, and without this idiomatic context, the reader cannot understand what I mean. For instance, I cannot translate "En ekke vir jou" into English. The direct translation would be: "And I for you" which makes no sense. (The protagonist actually meant: "And I love you too!")

Dutch readers, however, should be able to follow most of the text. If you did, share it with your friends on Facebook or contact me. It is always lovely to get some feedback.

Sonde met die Honde - Venus

© J. Francois Barnard – Maart 2014

Venus was 'n Staffordshire terrier wat van die plaas af by ons kom aftree het. Oorlede Pa het haar van die plaas af gebring en verduidelik dat sy Bull Mastiff teef kleintjies gekry het. Elke keer as Venus belangstellend na die nuwe hondjies kom kyk het, het die Bull Mastiff Venus haar aangeval en stukkend gebyt.

"Twee bietse op een werf werk nie", het Oorlede Pa gesê.

"Twee bietse in een kombuis ook nie", het ek gedink, maar my gedagtes vir myself gehou. Dis 'n totaal ander storie.

Venus was al oud toe sy by my kom aftree het. Sy was 'n jong meisie-hond gewees toe Adoons, Oorlede Pa se Staffy-reun, haar swanger gemaak het. Sy het net een kleintjie gehad, en my broer, Adam, het later die liefdeskind vir homself gevat. Daarna het Adoons spoed gevang. Haar volgende swangerskap het dertien kleintjies opgelewer. Minder as 'n jaar later was daar nog elf.

Omdat sy en Adoons met papiere daar aangekom het, het die gebroedsels gou huise gekry, maar Venus was gaar gebaar. 'n Veearts het haar reggemaak.

"Verkeerd gemaak", het Adam vir Oorlede Pa gesê. "Oom Fanus Rautenbach het gesê as 'n veearts jou hond se plumbing toeknyp is die hond nie meer reg nie."

"Gesteriliseer", het ek by Afrikaans probeer hou, maar hulle het my nie gehoor nie.

Wanneer die donderweer gedreun het, het Venus totaal nutteloos geraak. Sy het dan soos 'n riet begin bewe en in in die huis kom skuiling soek. Sy sou voetjie vir voetjie in die huis insluip met die hoop dat jy haar dik lyf nie sou sien nie. Dan het sy onder die trap gaan sit en kwyl.

Later, toe haar oë nie meer wou werk nie en sy heeltemal doof geraak het, en sy haar blaas ook nie meer kon beheer nie, het ek haar veearts toe gevat vir 'n genadedood. Ek het die halsband met haar naam op verwyder en liewer net geloop. Dit was Oorlede Pa se hond, en ek het nie geweet hoe ek dit vir hom sou kon vertel nie.